Tuesday 16 October 2012

Jou gesiggie

Vandag het ek jou fotokie gesien.
Die mooiste engelkindjie wat spesiaal vir ons harte gemaak en afgelewer is.
Woorde kan nie beskryf hoe ek gevoel het toe ek in jou ogies gekyk het nie maar ek het dadelik geweet dat ek vir jou onbeskryflik lief gaan wees en altyd daardie glimlaggie op jou gesiggie wil sien.

My hart is so vol.....

Vol van liefde en verlange, mamma-bang-wees, onsekerheid en oneindige trots vir hierdie liefiekind wat eersdaags net aan ons gaan behoort.

My hart is vol van dankbaarheid vir die biologiese mamma. My hart gaan uit na haar in hierdie omstandighede. Ons sal jou altyd dankbaar bly vir hierdie groot geskenk. Mag jou toekomsdrome altyd waar word en ek gun Janke altyd haar plekkie in jou hart.

My hart is vol van dankbaarheid vir die personeel, vrywilligers en huismoeder van die tehuis waar Janke tans bly. Dankie vir die liefde wat julle my kind gegee het toe ek nie kon nie. Dankie vir die geduld en toewyding waarmee julle haar versorg het en dankie vir die briefie wat julle in haar verslag gesit het wat trane in my oë gebring het. Ek sal dit vir haar bêre sodat sy altyd weet hoe geliefd sy is.

Ek is dankbaar vir my man en die pappa van ons engel. Hy is ongelooflik en ek kan nie wag om hulle bymekaar te sien nie. Dankie Bokkie, vir die finansies en die ondersteuning en dat jy ons huisgesin se rots is. Ons kyk op na jou en ons is baie baie lief vir jou!

Ek is dankbaar vir al ons vriende en familie wat sulke ongelooflike mooi boodskappe gestuur het en net so verlief op ons baba is soos ons. Baie dankie vir al julle ondersteuning en liefde in hierdie tyd. Julle het ons laste halfeer en ons vreugde verdubbel.

Maar die grootste deel van my dankbaarheid gaan aan ons hemelse Vader. Ons is dankbaar vir hierdie pad wat U vir ons uitgelê het en wat ons soms met huiwering gestap het maar die uiteinde is `n pragtige dogter wat ons nie kan wag om te ontmoet nie. Dankie Vader!

1 comment:

nmfghjt said...

Die foto is spesiaal. Ek was dadelik oneindiglik lief vir B toe ons sy foto gekry het. Amper daar! Die laaste bietjie wag is die ergste, maar ook die lekkerste want jy weet dit eindig met 'n bondeltjie liefde.