Sunday 7 October 2012

Goeie week!

Hierdie was `n goeie wag week vir my. Het baie verlang na liefiekind maar ek kon vroetel in haar kamer sonder die tranedal wat gewoonlik volg. Sy het `n wasgoed cum speelgoedmandjie gekry en `n bypassende mandjie waarin ek al haar boudjies & skoonmaak goedjies gaan pak.

Haar kamer begin nou sooooo mooi lyk en ek kan nie wag vir die bunting wat ek bestel het nie. As jy besonderse bunting soek vir jou babakamer kan ek Lime Green Bean aanbeveel. Dit is by verre die mooiste wat ek op enige plek nog raakgeloop het en baie goed geprys.

Ons het `n plek naby Cape Gate gekry wat Pampers teen `n fantastiese prys verkoop. Ek maan toe vir Kobus dat ons nou nie meer so baie doeke moet koop nie want ons het al baie, toe werk hy vir my uit dat ons net 42 - 68 dae se doeke het! Ek is nog steeds sprakeloos en het "doeke" terug gesit op ons maandelikse inkopielys.

Checkers het reeds hulle kersfees goedjies uitgepak en ek is in my hoogste versnelling! Ek glo en vertrou Sussie sal kersfees saam met ons vier en ek het vir haar die oulikste "alice bands" gekoop. Die rooie is vir haar kersdag/die groot eet dag se uitrusting en die goue takbokkies is vir wanneer kerfvader haar geskenke kom aflewer! En as sy nie hierdie jaar saam met ons gaan wees nie dan gaan sy volgende jaar die coolste babatjie in die dorp wees.

Ons dank vandag die Liewe Vader dat 72 dae reeds verby is en dat elke sonsondergang `n nuwe dag bring en ons nog een daggie nader is aan haar koms.

1 comment:

nmfghjt said...

Klink of julle mooi voorbereid is. 72 dae - ek neem aan dit is na verwysing van die 90 dae wag? Amper daar!