Wednesday 25 July 2012

Die draaie wat die lewe met jou maak....

Ons lewens is `n snaakse ding en die liewe Here se weë in nog erger. Net wanneer jy dink; "we have it all figured out" dan word die dam onder die eendjie uitgeruk en word jou hele bekende wêreld onherkenbaar verander. Ons was happy om te werk waar ons werk en baie tevrede om te bly waar ons bly en vir Janke groot te maak in `n wonderlike "plattelandse-rige" gemeenskap. Die feit dat ek altyd gewonder het oor goeie skole vir haar en dat daar bykans geen dagmoeders in Knysna beskikbaar is nie was maar net `n vae onrustigheid maar nog geensins `n realiteit waaroor ek ontsteld moes raak nie.

En daar kom die Vader en ruk die dam en ons twee eendjies moes paddle hoor! In een week het ons ander werk gesoek en gekry, huis gesoek en gekry en ons trek bespreek! Ons was deur dieselfde oefening vroeer in die jaar en het weggestap daarvandaan maar hier kom die Vader en gee ons woord vir woord weer die selfde scenario en toe val alles net reg; die vergoedingspaket, die huis, alles.

Jankie gaan kan kies tussen die Paarl se beste skole en sy kan uit ons huis uit swot in Stellenbosch. Ek het nog nie werk nie maar die Vader het ons so gebless met die finansies dat ons sal survive al werk ek `n maand of twee nie. Daar is baie meer werksgeleenthede vir my waar ons nou gaan bly en eindelik lyk my loopbaanvooruitsigte aansienlik beter. In `n oogwink lyk ons en Janke se toekoms baie meer soos die roostuin wat altyd in my agterkop bly huiwer het. Maar maak dit die huidige situasie beter?

Nee, want Janke se perfek gestoomde kot moet uitmekaar gehaal word en getrek word. Ek en Kobus gaan drie weke apart wees in verskillende dorpe, my man gaan `n nuwe werk begin sonder dat ek daar is vir hom as hy by die huis kom. Ek kan enige dag die oproep kry dat Janke reg is vir ons en dan is ek dalk êrens agter `n meubelvervoerwa, maar ons begin letterlik `n nuwe seisoen in `n nuwe fase van ons lewe. My trek word in die winter opgelaai en in die lente afgelaai....hoe gepas is dit nie om `n heeltemal nuwe lewe te begin nie?

No comments: