Tuesday 1 May 2012

So met `n ompad saam

Hoe min besef ons hoe vinnig die lewe verander en hoe dikwels dinge wat in die verlede taboe was vandag algemeen aanvaar word en selfs geprys word. Kinders van  gemengde rasse is weggesteek en moes die kleed van skaamte dra en vandag word hulle deur egpare openlik aangeneem en aan die publiek voorgestel as volwaardige lede van die samelewing wat liefdevol, met trots, groot gemaak word.

Hoeveel te meer moet `n persoon van daardie era, daardie apartheidsera, nie sy diepgewortelde siening aanpas om plek te maak vir vandag se sienings en algemeen aanvaarbare gedrag nie. Nie net moet hulle vrede maak met die nuwe demokratiese reënboog beleid nie maar hulle moet so `n lewetjie in hulle huis verwelkom en met liefde aanvaar. Hoe moeilik moet dit nie wees om jou eie vooroordele opsy te skuif vir die geluk van jou kind nie. Hoeveel moed verg dit nie van `n ouer om te bid vir dit wat jou kind so desperaat verlang terwyl jou eie hart nie vrede het nie.

Daarom haal ek my hoed af vir elke ouer wat ten spyte van die onrus in sy hart, die vertwyfeling in sy gemoed en die oortuiging van sy opvoeding nog steeds die waagmoed wys om die onbekende aan te durf. Hulle self te onderrig in `n tema wat soveel vrees wakker maak sodat hulle kan voortgaan om net die beste vir hulle kinders te gee en met uiteindelike liefde `n kopskuif te maak wat in die verlede ondenkbaar sou wees, en wat niemand van hulle sou verwag nie.

1 comment:

Anonymous said...

Ai ek lees julle blog met trane in my oë en dink met liefde aan julle. Ons bid vir julle dogtertjie, blas of lig. Dit maak mos nie saak nie. Mens raak mos lief vir so n ou dingetjie. Mense wat nie met so n onvervulde leë gevoel gesit het nie, moet nie kom kommentaar lewer nie. Dit is moeilik genoeg om dit alleen te hanteer sonder ander se ongevraagde negatiewe insette. Weet net Jesus hou haar spesiaal vir julle. Hy is die groot beplanner. Moet hou. Baie liefde ousus Pauline