Monday 14 May 2012

Die wonder van inligting

Na weke se gewag trek ons hier op Wellington toe met `n lysie vrae en vrese (ek is baie pro-aktief met al my lysies) en vergeet heeltemal om tissues te vat.
Nota aan self: hou in vervolg die tissues naby en die mascara dun...

Terwyl ons wag vir Elouise vra ek senuweeagtig vir Kobus of hy die geld onthou het vir die orientasie waar hy toe kliphard uitblaker dat hy dit gisteraand op drugs en los vroue spandeer het. Ek is boedrooi en die seketaresse knip nie `n oog nie. Dit is nou eers vir my snaaks!!!! 

Wat `n belewenis wanneer iemand weke se vrae en vrese in twee ure besweer en jou heeltemal `n ander uitkyk gee op dinge wat vir jou onaanvaarbaar en skrikwekkend was. Jy fokus so op jouself en jou eie vrese dat dit so `n amazing ondervinding is om te hoor hoe bang die ander party is en dat sy net so bang is vir jou en jou verwerping as wat jy vir haar en hare is. Jy leer van hierdie ongelooflike proses waar die Here vreemde mense se weë saam bring om iets groot te laat gebeur. `n Babatjie raak die gemene deler tussen vreemde mense se lewens wat nooit anders van mekaar se bestaan en wêrelde sou geweet het nie. Hy maak vriende van vreemdelinge. 

Jy leer van onvoorwaardelike liefde - die liefde van `n biologiese mamma wat haar kind gee aan `n wild vreemde egpaar en die onwankelbare vetroue wat sy het dat hulle vir haar kind die lewe gaan gee wat sy nie kan nie. Die liefde van `n kangaroo mamma wat vir drie maande `n vreemde babatjie versorg sonder vergoeding en dan alles in haar vermoê doen om seker te maak haar kort lewetjie word perfek opgeteken en al die kosbare aandenkings word met sorg bymekaar gemaak en gebêre vir die groot dag wat ek haar ontvang. 
`n Kangaroo mamma wie se hart vandag breek omdat sy haar moet aangee maar wat die volgende dag terug kom om `n nuwe lewetjie in te neem en die hele onbaatsugtige proses van voor af te begin.

Hoe nederig maak hierdie proses nie vir jou as mens nie. Oornag besef jy hoe selfsugtig jou bestaan tot nou toe was. Jy kyk met `n vergrootglas na dinge wat vir jou saak maak en jou keel trek toe as jy besef jy kry `n skoon  doek en dat jy net met genade daai skildery kan help verf in vertroue dat die Vader julle albei sal lei en dat daar `n helse skoot good luck sal saamkom.

Ek raak nou heeltemal te melodramaties!!!!
Die papier werk is baie maar ek geniet dit. Gaan dit in rekord tyd afhandel. Is besig met ons profiel en het omtrent 4 dae gesit net om deur ons fotos te sif sodat ons die beste moontlike storie vertel. Ek sal verkies om weer mooi fotos van ons te laat neem - jy weet mos daai mooies met die sagte lig wat die rolletjies wegsteek.

Ons is super opgewonde en ek kan nie wag vir die groot dag nie!!!!!
Kan nou eindelik begin shop vir mooi goedjies. Is nog absoluut clueless wat ek met haar kamer gaan maak maar ek is seker daar sal vir my `n liggie opgaan. Ons het nog geen idee wanneer die groot dag gaan wees nie maar ons bid kliphard vir `n dogtertjie teen kersfees.




No comments: