Sunday 4 November 2012

Mamma wees....

Ek skryf al (aan en af) aan hierdie inskrywing vir twee weke....

Ons eerste twee weke is verby en ek kan nie glo die dae vloei so vinnig ineen nie. Die eerste twee dae was ek so onseker en senuweeagtig en nou is ek gemaklik met haar en ken ek al die toonhoogtes in haar gille (nie dat daar baie is nie). Sussa is so `n maklike dingetjie en die geite en grille is min. Elke dag is trial en error en die beste deel is dat ons altyd `n volgende dag het om dit beter te doen en daardie ritme te kry waarvan elke gesin sy eie komposisie het.

Ons eerste keer in die Mall was baie snaaks en ook die eerste keer wat ons die stootwaentjie kon uittoets. Ek kom toe agter Kobus loop so snaaks en ek vra hom toe daarna (hy stoot die waentjie). Hy weet van niks maar toe slaan dit my - dit is breëborsloop!!! Hy is so trots op sy meisiekind dat hy beswaarlik dit kan wegsteek. Hy is verby chuffed om `n pappa te kan wees en met sy girls in die Mall te spog! Dit laat my hart so warm klop!!!

Op `n stadium moet hy gou haar doek gaan omruil (terwyl ek klaar eet) en wals met haar by die babastasie van die Mall in. Toe hy na `n eeu daar uitkom, toe sê hy: "Daar is net mans met babas daar binne, is dit nie `n vroumens plek nie? Anyway, my baba was die mooiste van die lot daar binne!" Kan jy nou indink? `n Klomp nuwe pappas wat uiters kompeterend hulle spruite droogmaak terwyl hulle onderlangs loer en notas maak oor die ander pappas en die se babas!

Sussa laaik van slaap! Ek het geen probleem om haar aan die slaap te kry of oor waar ek haar aan die slaap maak nie. Wakker word is `n hele gedoente en neem ten miste `n halfuur na 45 minute want sy raak moeg tussen-in en dan slaap sy nog `n bietjie. Ek vermoed ek gaan vreeslik sukkel met haar om op te staan vir skool. Die beste deel van my dag is om vir haar te kyk as sy wakker word en sy stoei teen die neuwels. Groot is egter die beloning as sy haar ogies oopkry en sy kyk met sulke groot oë na my en dan breek daar die grootste sonskyn glimlag deur sodat jy net gums sien. Dit is op daardie presiese oomblik wat my hart te groot raak vir al die liefde wat ek vir hierdie ongelookflike kind van my het. Ek kan dit nie beskryf nie want dit is te groot, te mooi en heeltemal te spesiaal om woorde daaraan toe te dig wat nie hierdie hartsgevoel tot sy reg sal laat kom nie.

Sy gesels graag en vertel vir my alles wat in droomland gebeur het. Sy vertel in detail al die skandale van die nag en mamma is gehipnotiseer met die vonkel in die ogies as sy haar so inleef in die storietjie in. Mamma moes die woorde van `n paar wiegeliedjies gaan opsoek (dankie tog vir Google) sodat ons bietjie kan sing. Sussie hou die meeste van Miena Moo en Eendjies Eendjies....

Dan is daar hierdie onverwagte oomblike! Oomblikke wat so vinnig gebeur en wat ek die voorreg het om in te deel. Soos die oomblik toe sy die eerste keer regtig haar voet raaksien en met verwondering daarna staar. Sy was in vervoering. Of toe sy die eerste keer vir apie raakslaan op haar jungle gym en so groot skrik vir die ervaring dat sy doodstil lê en gister toe sy die pappegaai raakgeskop het en jy die verbasing in haar ogies kon sien.

Kobus het gister so `n oomblik gehad toe sy vir die eerste keer hardop gelag het en so groot geskrik het daarvoor. Dalk het sy groter geskrik toe Kobus soos `n banshee gil vir my om te kom luister.

Ons het ook die 10 weke spuite deurgewerk maar Sussie was so dapper en het vir die eerste keer trane in haar ogies gehad toe sy gehuil het oor haar beentjie so brand. My hart het tienduisend stukke gebreek vir haar.

Om Janke se mamma te wees is die grootste en mooiste avontuur van my lewe en dit het die meeste belonings. Al my drome het waar geword. Erens in een van my nagte van insomnia het ek besef dat ek alles het waarvoor ek so hard gebid het. Die Here het my drome een vir een op Sy eie tyd bewaarheid en dit presies afgelewer soos ek daarvoor gevra het. Dankie Vader!

1 comment:

Unknown said...

Ag there I am tjanking again. What a wonderful post. Thank you for sharing.