Tuesday 22 October 2013

Vol sirkel

Vandag is die een jaar herdenking van Janke se plasing by ons. Op 22 Oktober 2012 het ons die trotse ouers van `n fantastiese dogter geword. `n Dogter wat eintlik ons eie biologiese dogter is maar `n anderster ompad moes kry om by ons uit te kom. `n Dogter wat so volmaak is dat ek na 365 dae nog steeds in verwondering na haar kyk. Eindelik `n gesin.....

Vandag is ook my laaste blog artikel. Die sirkel is nou voltooi en ek gaan nou `n nuwe blog begin. Ons het al ons eerstes beleef.....van die onvrugbaarheid, deur die aanneming, die plasing, die eerste nag, dag, eerste kersfees, paasfees, eerste verjaarsdag en vandag die eerste herdenking. Nou is die verlede in die verlede en ek wil `n fun blog begin want ek het `n ongelooflike snaakse dogter! Ek wil haar uniekheid vier los van die aanneming want in my hart was daar nie `n aaneming nie, net `n verwelkoming.....

Ons was vandag by Thembiso House waar Janke haar eerste 60 dae deurgebring het en ek kon nie `n beter manier kry om die sirkel te volbring as juis op hierdie manier nie. Toekie was so opgewonde om Janke weer te sien en ons het so `n ongelooflike tuiskoms ervaar. Daar was spesiaal fototjies van ons op die kennisgewing bord en al die vrywilligers was daar om Jankie terug te verwelkom. Wat `n ongelooflike belewenis om soveel vreugde en vrede te beleef. Ek het al vantevore geblog oor die engele op die aarde maar Toekie is `n spesiale soort engel. Daardie wat die Here self met die hand kies om na sy spesiale blommekinders om te sien. Soveel liefde het ek nog nie in een mens beleef nie en die toewyding wat sy haar take mee verrig kan nie met enige iets vergelyk word nie. Dankie is so nietige woord vir soveel dankbaarheid wat ek in my hart voel vir hierdie engelmens. Toekie, dankie is al wat ek het ...... `n diepe dankbaarheid dat die Here my kind in jou sorg geplaas het oppad na ons toe. Jy sal altyd `n spesiale plekkie in ons almal se harte hê.


Ek dink vandag aan `n ander mamma met leë hande en `n hart vol herrineringe. Dankie G & S vir my wonderlike kind, dankie dat jy haar gehelp het om ons te kry en dat jy haar veilig in die wêreld ingebring het. Mag daar vir jou eendag weer `n engelkind wees wat die lag in jou hart sal bring en verwondering in jou oê!

Die kleiner sirkel is nou voltooi en ons sien uit na `n paar groter sirkels wat Janke in haar toekoms moet volbring. Ek sien uit na die toekoms en ek dank die Vader vir die voorreg om hierdie engel van hom groot te maak. Ek bid vir genade en leiding, sodat ek haar na sy beeld kan grootmaak. Ek bid vir haar vir innerlike krag en beskerming teen die bose geeste daar buite. En ek dank die Vader dat hy vir haar `n awesome pappa gegee het. Dankie Babes, jy is amazing!

1 comment:

Unknown said...

Waar gaan jy nou blog? Ek het dit so geniet om altyd jou posts te lees. Ek sal baie graag jou nuwe blog wil volg. Ek kan sien julle maak n pragtige,gelukkige dogtertjie groot en ek hoop ons kan jul voorbeeld volg binnekort. Sterkte vir julle en mooi bly!