Monday 8 July 2013

Opdraendes en Afdraendes

My engelkind is amper een jaar oud en ons beplan woes aan haar verjaardag. Sussa is natuurlik onbewus van mamma se ure op die internet en die hardeskyf vol prentjies, idees en resepte wat spesiaal vir die groot geleentheid gewerf word. MAAR dit is liefiekind se eerste tweede groot geleentheid en al verstaan sy nie nou nie gaan sy oor twintig jaar die fotos kyk en dan wil ek nog steeds trots wees.

Ek is mal verlief op my kind en ek kan nie glo dat mens vir so `n klein wesetjie so ongelooflik lief kan wees nie. Elke dag kyk ek in haar vrolike gesiggie en dan staan ek elke keer verstom oor die engel in my arms. Janke is die rustigste, gelukkigste, maklikste baba wat ek nog ooit teegekom het en ek kan nie glo sy is myne nie. Sy het die kleinste hartjie en kan so vinnig hartseer raak as iemand net hard praat of ongelukkig is. Sy het so `n fyn waarnemingsvermoe en ek verstom my dat sy so oplettend is. 

Elke dag is `n happy dag in my engel se lewe en sy is soos `n flindertjie wat net heeltyd die sonkant vang. Sy het nie regtig nukke en grille nie. Sy speel vir ure by haarself en vermaak haar met allerhande onbenullighede. Sy klap haar handjies en lag en gesels. Ek beny haar, sy is so onskuldig gelukkig.

Jankie gee nou al self soentjies! Sy is vrek suinig daarmee en elke keer as sy vir my `n wetone gee dan raak ek sommer tranerig. Sy is nog so bietjie dom met die soenery en partykeer is dit sulke lekker sopnat oopbek gedoentes maar my hart klop wild en ek gryp elke keer die oomblik met al my hande aan. Ek kan nog steeds nie glo dat sy vir MY lief is en dit uit vrye wil nie. Dit is net ongelooklik hoeveel vertroue sy in my as mamma stel en elke keer s sy daardie armpies uitgooi as sy hartseer is en net vir MY wil he dan is die ou moederhart darem maar week en aangedaan. Dit bly maar net vir my die mees ongelooflike gevoel........

No comments: