Wednesday 12 December 2012

Glimlaggies, voete en bubbles!

Ek vergun myself die tyd om my gunsteling forum te lees. Al die stories en aanneem mammas se opmerkings laat my net weer besef hoe ongelooflik gelukkig ek die laaste twee maande is. Werklik, diep gelukkig! Baie meer as wat ek ooit vantevore in my lewe was. Dit is `n dieper, gelukkiger geluk as wat ek ooit geken het. En as ek langs my kyk na die klein apie wat nie wil slaap nie en vir my giggel onder die kombersie uit, dan raak my hart week vir hierdie engelkind van my. Al slaap sy op weird tye.

Dit is al twee maande wat ons `n gesinnetjie is en elke dag is daar ietsie snaaks, ietsie nuuts en ietsie wat my hart  beklem. Maak nie saak of dit goed of sleg is nie maar hierdie kind van my slaan my asem weg! ELKE DAG!!

Janke doen die snaakste goed. Eers het sy haar tongetjie sy dubbeld gevou en hom gesuig. Die snaakste, aardigste geluide gemaak as sy so verwoed haar tong uitsteek en suig. Toe begin sy haar hande suig en duim ook. Klink amper of sy hulle gaan op eet. Nou spoeg en gurgle sy. Sulke groot spoeg bubbles. En moenie dink sy gaan dit doen as jy die videokamera byderhand het nie, o nee!!! Die lekkerste bubbles word geblaas met haar melk, oeg sy LOVE dit. Melk oor alles en oor die hele ou gesiggie. Orals behalwe in haar keel af.

Sy het ook `n nuwe brabbel taal. So cute. Soms verbeel ek my ek herken woordjies maar oor die algemeen is dit net die cuteste baba brabbel en musiek in my ore. Sy lag natuurlik uit haar magie uit as jy vir haar sê " Janke" "Slaap". Jy sê dit natuurlik stadig en met nadruk, so asof jy met `n gehoorgestremde praat. Sy dink dit is die snaakste grappie van alles wat mamma kwytraak!

Die spreekwoord lui dat jy jouself lam skrik, nouja ek het dit nog nooit gesien nie tot nou die oggend wat ek vir Janke per ongeluk skrik gemaak het. Sy het op my bed gelê en ek was in die kombuis besig. Toe ek die kamer inkom toe praat ek met haar en sy skrik toe so groot dat sy lettelik lam raak. Sy het haar arms so oopgegooi op die bed en haar beentjies ook. Dit was die heel snaakste ding wat ek nog OOIT gesien het.

Sy doen op die oomblik die mees spesiaalste ding. Sy sit haar handjies so op jou wange en dan gesels sy met jou of sy kyk so diep in jou oë. Joeg, geen mensehart kan dan daardie kind weerstaan nie. En as sy en pappa so diep gesels dan klop my hart so warm vir my gesin.

Onlangs het die prinses haar voete ontdek. Eers net raakgesien en toe twee dae geoefen om hulle te kan bykom en toe eindelik.....die groot oomblik....toe sy hulle in die hande kry!!! Nou is doeke omruil so `n groot plesier want susgoed gryp die voete en so lê sy oop klooster tot mamma klaar is.

Haar gunsteling liedjie is Eendjies Eendjies en maak nie saak hoe vies, vaak of verveeld sy is nie, ek kry altyd die grootste, mooiste glimlag as ek hom sing. Van sing gepraat. Sy het geen probleem met my vermoë om `n noot te hou nie. Die applous is altyd daar en die entosiasme genoeg om nog meer liedjies aan te spoor.

Sy het vandag haar hare ontdek, vryf so met haar handjie oor haar krulle. Sy het ook geleer hoe om die kombers oor haar kop te trek maar nog nie hoe om hom weer af te haal nie. So nou moet mamma nog `n groter oog gooi sodat Sus nie haarself versmoor nie. Gelukkig laat weet sy my dadelik as haar kop toegegooi word.

Sy groei ook heeltemal te vinnig! Van haar klere is al 6-9 maande. Sy het al haar 4 maande mylpale bereik en sy kan al omrol op haar sy. Tummy time is egter nog `n probleem want Sussie hou niks daarvan om op haar maag te lê behalwe as dit op haar pa se skoot in die bad is en hy haar ruggie vryf nie. Sy begin al haar bottel so onbeholpe vashou en sy weet die bottel moet in haar mond kom maar sy het geen idee hoe om dit te bewerkstellig nie. Baie snaaks!

Maar die grootste wapen van alles......
Daardie sonskyn glimlag! En sy weet so goed hoe om daardie glimlag aan en af te draai. Die spesiaalste glimlag van die dag is die een wat jy kry, vroeg in die oggend, as sy lekker geslaap het. Jy kry hom nie weer tot more oggend nie!!

Janke, my liefiekind! Mamma is baie lief vir jou!!

No comments: