Friday 3 August 2012

Bloed, water en rekeninge...

Wanneer is bloed dikker as water?
Hoekom moet bloed noodwendig dikker as water wees?
Hoekom heg ons meer waarde aan bloed as aan water?

Net omdat dit bloed is beteken dit dat die rekening (van die hart) altyd oop bly en daar meer (emosionele) onttrekkings as depositos gemaak kan word. Ek verstaan nie hierdie lewensreël nie. Wie het hierdie storie begin van bloed is dikker as water? Wie het hom/haar die reg toe geëin om hierdie emosionele afpersing goed te praat ter wille van familie en die sogenaamde bande? Hoekom gee familiebande jou die reg op lewenslange krediet?

As `n goeie vriend/in jou te na kom dan word die vriendskapsband baie vinninger gesny as wat enige familieband ooit verbreek kan word. As `n vriend/in meer onttrekkings  as depositos maak dan word die rekening nog vinniger toegemaak en die voorreg om die rekening deur daardie persoon weer oop te maak word met wantroue bejeën. Vriende kry baie minder verdraagsaamheid as familie. 

En tog is dit juis hierdie sogenaamde familie wat jou die seerste kan maak....
Hoekom maak hulle oortrokke rekeninge die seerste?

Daar is water in my lewe wat baie dieper en dikker vloei as enige bloedbande. Daar is ongelooflike mense wat baie belê en absoluut geen rente verwag nie. Hulle is daar vir my wanneer my hart aan flarde is, wat luister as ek oor en oor dieselfde opgewonde storie vertel, wat klein en groot mylpale onthou en altyd `n boodskappie stuur. Hulle tel elke nuanse in my stem op en weet dadelik as die lied in my hart van noot af is. Baie keer weet hulle net....

Ons gaan nou `n babatjie aanneem wat nie bloed of water is nie. Dit is `n onbekende geskenk. Nou meer as ooit besef ek dat bloed en water irrelevant is. Dit gaan oor deponeer en onttrek. Dit is `n belegging wat ek maak, `n rekening wat ek oopmaak en waar ek `n lewenslange commitment maak om meer te deponeer as wat ek onttrek. Dit is `n emosionele belegging in iets wat nie van my gebore is nie maar wat my wese vervul en my hart beset.

Dan besef ek dat almal gelyk is, en eenders behandel moet word. Dat persone (vriende en/of familie) geen reg het om `n rekening in my hart, sonder voorwaardes, te hê nie. Geen familieband regverdig die hartseer van oneindige ontrekkings nie. Daarom maak ek vannaand `n paar rekeninge toe, skryf ek debiete af en kanselleer ek beleggings wat nie meer waarde het nie en kies ek om my energie toe te spits op die rekeninge wat die lied in my hart ken. Dit is daardie mense wat my hartslied vir my sing wanneer ek dit nie meer kan hoor nie en die tempo nie kan voel nie. Bloed het geen waarde meer vir my nie. Net beleggings het.....

1 comment:

Anonymous said...

Hello Aneli
Dankie Dankie vir jou blog! Ons is ook nou in die proses (ook Procare)en alles wat jy se is wat ek al deurgegaan het en gevoel het, maar nog net nie op papier neergesit het nie. Eintlik het ek gedink dat ek die enigste een in die wye wereld is wat deur hierdie tipe emosies gaan ; )
Maar die wag raak in 'n mate makliker....sommige dae is beter as ander.
Groete
Madelyn Swanepoel
madelynswanepoel@hotmail.com