Monday 18 March 2013

Genade en baie skaterlag oomblikke

Ek het so lanklaas geblog dat ek skoon sleg voel maar deesdae is min van my tyd my eie, so nou sit ek by die werk en blog soos `n goeie werknemer betaam....

Janke se hofbevel het ge-arriveer so nou is sy amptelik en offisieel ons eie kindjie. Die datum stempel op die brief wys 31 Januarie 2013. Ons is in die proses om haar naam en van te laat verander. Daar gaan `n groot makietie wees as ons hierdie proses afgehandel het.

Sussa is op die 3de Maart gedoop in die NG Moedergemeente Wellington deur Ds. Lettie Buchner. Dit was so `n mooi geleentheid en daar was blykbaar baie trane orals in die kerk. Ek het alles gemis, weet nie hoe nie  maar daardie dag was so deurmekaar dat ek min dinge waargeneem het wat nie met `n koek of `n koffiekoppie te doen gehad het nie. Janke Marjolein Gerber is voorgestel aan die gemeente en susgoed het klaar baie harte gesteel. Ons het heerlik gekuier saam met die familie en vriende wat van vêr gekom het en ons is so dankbaar dat hulle almal ons lewe deel.

Gedurende ons doopgesprek het Ds. Lettie so mooi van Janke se biologiese ouers gepraat en haar toe in gebed aan die Vader opgedra en haar vrygespreek van haar "vorige lewe" en al daardie ongekende gene en dinge wat so nou en dan oor my skouer kom loer. Ds. Lettie het verduidelik dat Janke die Vader se kind is en dat Hy haar persoonlik kom vrymaak het van haar verlede en die bande geknip het. Dit het so baie vir my beteken en van nou af spreek ek net lewe oor ons kind (en haar onaardse ge-gil). Sy bring so baie vreugde in ons lewe dat ek nie gaan toelaat dat daar `n skaduwee oor my val omdat ek die wa voor die osse span nie.

Sussie is te oulik vir woorde. Die spesiaalste tyd van die dag is as ek van die werk af kom. As Janke my sien dan is dit asof die son oor haar gesiggie opkom en dan begin sy so skop met haar voetjies en dan gooi sy haar armpies vir my om haar op te tel. Ek is mal daaroor en dan pomp die ou moederhart sommer so lekker warm.

Sy trek die snaakste gesigte. Ek lag so lekker vir haar as sy so aangaan. Soms maak sy haar ogies so snaaks, ek wens so ek kan dit afneem maar sy is so vinnig as sy haar gesig so trek. Partykeer dan gooi sy haar koppie so agteroor en dan lag sy so lekker uit haar magie uit maar daar kom geen klank uit haar mond uit nie. Dit is die weirdste ding wat ek nog gesien het. 

Janke het reeds tienermaniere. Sy lê altyd op haar een boud met haar been oor iets gedrapeer, net soos `n tiener. Of sy sitlê op haar stuitjie, dan skop sy so met haar voetjie op en af, nes `n grootmens. Sy lyk dan so snaaks want jy kan aan die hele ou lyfie sien daar is nie `n bekommernis van enige aard nie. In haar gedagtes is sy êrnes op `n tropiese eiland met `n swetterjoel slawe.

Nes `n tiener het Sussa ook haar oomblike van onredelike uitbarstings, trane, verwyte en afpersing. Sy is nou maar eers 7 maande oud. Op die oomblik dra "tande kry" die skuld. Mamma se liefde en geduld word dan baie getoets hoor want ai Susgoed kan moeilik raak Dit is in hierdie oomblikke wat pappa skoon wegraak.

Badtyd is nog steeds hoog op die prioriteitslys. Mamma hou die heel meeste van die badeendjies en ons het nou al `n verskeidenheid. Dit is so cute as hulle so rond dobber. Die beste deel van bad is daardie lekker vet ou lyfie en boude wat ek net wil hap so oulik is hulle. As jy daai klere uit het is Sussa sommer stuitig en as die doek eers waai dan is sussie op haar gelukkigste. Maar daardie ou lyfie wat so lekker sag is maak my hart week.

Ek kan nie glo ons lewe het so verander maar tog ook so maklik aangegaan nie. Ek wil graag vir drie dae aanmekaar slaap en tog weet ek nie wat ek ooit met al my tyd gemaak het nie. Partyaande is ek voor Janke al aan die slaap en tog slaap sy deur. Ag ek kla sommer nou met `n witbrood onder die arm. Ek verruil my mamma status vir niks nie. Ek love dit!

No comments: