Wednesday, 22 August 2012

Pink porche en `n police lineup

`n Dametjie wat ek deur hierdie blog ontmoet het, het vir my so `n mooi beskrywing gegee van ons wagtydperk. Sy sê dit is soos om `n pienk porche te hê met die mooiste wit bekleedsels maar hy het nie wiele nie. Elke dag klim jy in hom, vryf met jou hand oor die leer maar jy kan hom nie ry nie. Dit is so waar....al die mooi babagoed en geen wriemelende lyfie nie!

Ek is bly om te sê sy het gister haar pragtige prinses huis toe geneem en ek is muf om die minste te sê!!

Toe lees ek gister nog `n great blog oor die profielle wat ons oor onsself beskikbaar stel en oor die biologiese mamma wat daarna kyk. Dit is soos `n police lineup. Die mamma sien ons almal se profiele net soos sy deur `n eenrigting glas na ons sou kyk en dan kies sy haar ouers. En al wat ons sien is `n paartjie wat huis toe gaan met `n engeltjie terwyl ons nog voor/agter die glas staan. Jy weet nooit hoekom jy nie gekies is nie (anders as met `n regte lineup:) Daar is absoluut geen terugvoer nie. Dit is daardie verwerping in die LO klas op skool weer van voor af. Ten minste was die LO klas net `n uur so jou verwerping was van korte duur. Hoe populêr moet mens voorkom om `n babatjie te kry?

Toe ek ons profiel gedoen het het ek die mooiste fotos gekies waar ons die maerste, gelukkigste, mees talentvolste en suksesvol gelyk het. Die mooiste, kleurvolste fotos. Die honde en kat se cuteste fotos is daar in. As ek `n mamma was sou ek ons dadelik tussen die bondel uitgekies het. Daar sou nie eens `n ander opsie/paartjie vir my gewees het nie. Maar nou is dit nie ek nie. En dalk is ek nie maer genoeg of is die honde nie oulik genoeg vir haar en haar engeltjie nie. Dalk lyk ek tè happy of dalk haat sy troeteldiere of dalk  hou sy nie van kamp nie. Wie gaan ooit weet?

Die ergste van alles is dat ek geen beheer het hieroor nie. So al wat ek kan doen is om geduldig my tyd af te wag in/saam met die lang ry van afwagtende ouers en hoop dat èrens agter die glas is `n mamma wat die meeste van ons hou.

Tuesday, 21 August 2012

Ek verlang so baie.....

Vandag is weer een van daardie dae wat die hart se verlange bietjie erg is. Ek kan dit nie lekker beskryf nie. Dit is nie soos `n Sondag middag koshuis gevoel nie en dit is ook nie as jy na jou man verlang en jy is ver oor die water nie...dalk is dit `n bietjie van albei plus `n goeie skoot uitsien soos wat ek altyd uitsien na kersfees.
Maar jy sien nie die einde nie want daar is nie nou een nie, daar is net `n belofte, van `n mens, dat hulle vir jou in die afsienbare toekoms `n babatjie gaan gee. Daar is geen hartklop nie, geen skoenlappers in die maag nie, geen sonar fototjie, niks nie......

Anyway, ek verlang vandag kwaai na my prinses.

Friday, 3 August 2012

Bloed, water en rekeninge...

Wanneer is bloed dikker as water?
Hoekom moet bloed noodwendig dikker as water wees?
Hoekom heg ons meer waarde aan bloed as aan water?

Net omdat dit bloed is beteken dit dat die rekening (van die hart) altyd oop bly en daar meer (emosionele) onttrekkings as depositos gemaak kan word. Ek verstaan nie hierdie lewensreël nie. Wie het hierdie storie begin van bloed is dikker as water? Wie het hom/haar die reg toe geëin om hierdie emosionele afpersing goed te praat ter wille van familie en die sogenaamde bande? Hoekom gee familiebande jou die reg op lewenslange krediet?

As `n goeie vriend/in jou te na kom dan word die vriendskapsband baie vinninger gesny as wat enige familieband ooit verbreek kan word. As `n vriend/in meer onttrekkings  as depositos maak dan word die rekening nog vinniger toegemaak en die voorreg om die rekening deur daardie persoon weer oop te maak word met wantroue bejeën. Vriende kry baie minder verdraagsaamheid as familie. 

En tog is dit juis hierdie sogenaamde familie wat jou die seerste kan maak....
Hoekom maak hulle oortrokke rekeninge die seerste?

Daar is water in my lewe wat baie dieper en dikker vloei as enige bloedbande. Daar is ongelooflike mense wat baie belê en absoluut geen rente verwag nie. Hulle is daar vir my wanneer my hart aan flarde is, wat luister as ek oor en oor dieselfde opgewonde storie vertel, wat klein en groot mylpale onthou en altyd `n boodskappie stuur. Hulle tel elke nuanse in my stem op en weet dadelik as die lied in my hart van noot af is. Baie keer weet hulle net....

Ons gaan nou `n babatjie aanneem wat nie bloed of water is nie. Dit is `n onbekende geskenk. Nou meer as ooit besef ek dat bloed en water irrelevant is. Dit gaan oor deponeer en onttrek. Dit is `n belegging wat ek maak, `n rekening wat ek oopmaak en waar ek `n lewenslange commitment maak om meer te deponeer as wat ek onttrek. Dit is `n emosionele belegging in iets wat nie van my gebore is nie maar wat my wese vervul en my hart beset.

Dan besef ek dat almal gelyk is, en eenders behandel moet word. Dat persone (vriende en/of familie) geen reg het om `n rekening in my hart, sonder voorwaardes, te hê nie. Geen familieband regverdig die hartseer van oneindige ontrekkings nie. Daarom maak ek vannaand `n paar rekeninge toe, skryf ek debiete af en kanselleer ek beleggings wat nie meer waarde het nie en kies ek om my energie toe te spits op die rekeninge wat die lied in my hart ken. Dit is daardie mense wat my hartslied vir my sing wanneer ek dit nie meer kan hoor nie en die tempo nie kan voel nie. Bloed het geen waarde meer vir my nie. Net beleggings het.....