Op 22 Maart 2012 het ons reis na `n eie gesinnetjie begin. Maande
se wik en weeg en bid het eindellik in `n doelgerigte besluit verander. As ons
dan nou nie self `n babatjie kan maak nie dan gaan ons enetjie aanneem.
Procare is ons
gekose aannemingagenskap en ons het ons eerste oriëntasieonderhoud op die 11de Mei 2012. Vandag is dit presies `n maand vandat ek die aansoek vir die
agentskap gestuur het en die gewag is oneinding lank.
Na drie jaar se
probeer om natuurlik swanger te raak het ons besef ietsie is fout en het by Dr.
Shuda om hulp aangeklop. Na `n mislukte kunsmatige insimminasie en `n
ovulasielose tweede siklus kon ek net nie meer voortgaan nie. Dit was so
onnatuurlik, stresvol en holderstebolder en ek was glad nie voorbereid vir al
die emosies, trane en gevoelens van mislukking nie. Jy bid en glo en vra so
mooi en dan gebeur dit nie en jy wonder HOEKOM, ander mense, selfs slegte mense
kry elke dag baie kinders, hoekom kan jy wat jouself as `n goeie mens beskou
nie jou eie kindjie kry nie?????
Ek het my kop `n
`n gat gedruk vir `n paar maande, maar die hunkering het gebly en na kersfees
het ek net weereens besef ek wil `n dogtertjie, enige dogtertjie wat myne is,
so graag vashou. In Edgars van alle plekke het ek so fraai frilletjie rokkie omhoog
gehou en vir Kobus gesê; "Ek wil `n baba aanneem"
Super duper cool
het hy die groenlig gegee en dievogende dag was die aansoek oppad. Kobus is so
`n ongelooflike rots van ondersteuning, krag en liefde. Hy is die een wat my
gefokus hou en as ek dwaal weer op die geloofspad terug stuur. Party dae moet
hy aanpraat en streng wees en ander dae hou hy net vas en vee die trane af.
Prys die Here vir hierdie engel wat reeds in my lewe is.
Nou is die groot
gewag en baie onsekerheid aan die orde van die dag. Ek lees baie blogs, forums
en artikels op die internet en soms raak al die inligting en menings net te
veel vir my en dan gaan soek ek vir my `n emosionele grot om in weg te kruip.
Mense het nogal baie sterk menings oor aanneming en trans-kulturele aannemings
is nog so vaag in ons bestaan. My ouers weet nog nie, gaan self vir hulle
vertel as ek die langnaweek huis toe gaan. Al wat ek verseker weet is dat ek
nooit enige mens sal toelaat om daai bondeltjie engel seer te maak met hulle
woorde en wanopvattings nie.
Ek self het baie
vrese en vrae. Hoe gaan sy lyk, watter kleur/ras gaan sy wees, in watter
omstandighede het sy in die wereld gekom, gaan ek `n goeie mamma wees, gaan my
familie en vriende haar aanvaar? As jy jou eie babatjie verwag het jy reeds
talle vrese, maar jy het soveel meer as jy vir `n onbekende bondeltjie van iemand anders wag. Wanneer jy in swart op wit jou voorkeure moet vaspen is die gedagte vreesaanjaend. Watter geslag verkies
jy? Hoe oud moet die kind wees? Watter ras verkies jy? Die Here weet reeds wie jou kindjie is, netnou vul ek die vorm verkeerd in en mis haar heeltemal! In hoofetters staan
duidelik geskryf : “Geen wit kinders is tans beskikbaar nie!”
Ek weet nie wat die toekoms inhou of wat die Here vir ons beplan
nie, al wat ek weet is dat ons onvoorwaarlik lief sal wees vir haar en haar met
ons hele lewe sal beskerm. Party mammas produseer babatjies en ander mammas maak
hulle groot. Daar is vir ons geen onderskeid nie. Wat ek wel weet is dat sy die
heel beste gaan kry wat ek en Kobus haar kan bied. Al die liefde, geleertheid
en geleenthede wat menslik moontlik is sal hare wees, maar meeste van alles sal
sy elke dag weet hoe baie spesiaal sy is en hoe gelukkig haar koms ons gemaak
het.
1 comment:
wat 'n ongelooflike reis is julle nie nou op nie... as jy daardie klein mensie in jou arms vashou, was dit elke dag se wag werd. Die ras/geslag/kleur... niks maak saak nie....al wat saak maak is dat Liewe Jesus vir JOU en Kobus gekies het om die klein mensie groot te maak en van Hom te leer.... dit IS die wag werd...
hou op al die goete op die internet lees. omring jou deur positiewe mense, mense wat jou bemoedig en begin droom van die dag wat jy jou babatjie vashou... dit is net soo amazing...
Ek bid vir julle en onthou God sal die mooi wat Hy in julle begin het, enduit voluit en klaar maak.
Stywe drukkie,
Lin xx
Post a Comment