Wednesday, 21 November 2012

Een maand en Drie maande

Vandag is Janke drie maande oud en sy is al `n maand deel van ons gesinnetjie. Voel so vinnig en onwerklik maar dit voel ook of sy al so lank deel is van die huishouding. Die laaste maand was seker die besigste van my getroude lewe. Ek weet net nie meer waar al my tyd heengaan nie maar tog as ek my oë uitvee is dit badtyd en kort daarna is ek en Sussa uit soos kerse. Nie dat ek kla nie ;D

Daar is nog nie heeltemal `n slaaproetine in die huis nie. Dit is meer die geval van "loosely based on a true story". Sussie slaap soos en wanneer sy vaak raak en geen aanmoediging van my af laat haar van haar intensie afwyk nie. Is dit `n teken? Al wat ons weet is dat sy in die nag definitief slaap, die res is `n verassing!

Die naweek het sy die res van die Gerber familie en van ons vriende ontmoet. Ek was so trots op my dogter. Sy was die mooiste, vriendelikste dogtertjie en nie een keer het sy moeilik geraak met al die hande wat vashou, die eindelose gekielie en al die geraas nie. Sy het almal omgeklits met daardie sonskyn glimlag en gesels met ieder en elk. Mamma was natuurlik reg met `n arsenaal klere en elke uitrusting was ouliker as die ander. Haar tas was die helfde van die kattebak! Nodeloos om  te noem dat Sussa die hele 400 km huis toe geslaap het!

Janke sit al in haar bumbo sitplekkie sonder om haar nek te breek. Haar nekkie is al mooi styf en dit is vir my lekker om haar net orals rond te skuif soos wat ek werk. Sy geniet haar jungle gym geweldig en alles gaan op die oomblik mond toe.

Kattie het eindelik vrede gemaak met die vreemde wese wat sy slaaf gesteel het en het eindelik teruggetrek huis toe en homself verwerdig om weer ons bed met haar te deel. Hy was vreeslik ontsteld oor haar koms en het drie weke lank onder `n bos in die tuin gebly en net kom eet wanneer dit stil was in die huis. Ons is dankbaar dat hy oor homself is.

Monday, 12 November 2012

Ke a Leboga!

Baie baie dankie vir al die mooi mense daar buite wat my blog volg en sulke mooi boodskappe stuur. Ek het hierdie blog begin om uiting te gee aan al ons frustrasies en gelaaide emosies gedurende die aanneming en nou is dit vir my so lekker om vir Janke `n dagboek te hou van haar lewe saam met ons. Die ondersteuning en boodskappies beteken die wêreld vir my, baie baie dankie!!!

Thank you to all the people that follow my blog and leave such lovely comments. This blog started off as a venting outlet for my emotions during the adoption and now I love keeping a diary of Janke`s life. Thank you for the love and support, it means the world to me!!


Sunday, 11 November 2012

Miracles

In the last two weeks I have been a witness to small miracles. Small miracles that happens so fast that it catches you off guard and make you second guess if, in fact, you saw (and interpreted) it correctly. Like the morning when I was dressing Janke and turned around to get a facecloth from the bathroom and she rolled to her side (all by herself) or the moment when she took a swipe at her toy spider and grabbed it. Not only did she manage to grab hold of it but also to stick it in her mouth! The amazement on her face was priceless. 

Being able to see her little body grow and change is such an amazing experience. She is now growing out of her 0 - 3 month clothes and also changed to No3 nappies. Being able to finally dress her in all the funky stuff we have collected over the past months is paying huge dividends.

We also introduced Janke to her Ouma Sonja and Oupa Cobus via a skype video call for the first time. What an experience to be able to chat to ouma via the internet and witness her tears of joy when she saw her grand daughter for the first time. Technology have bridged 1400 km and brought ouma into our lounge. Never shall we be neglecting technology again!!! 

The biggest, heart warming, milestone was when we played this afternoon and she laughed from her belly for the first time. It was the most beautiful sound I have ever heard in my life. Not even when I heard my hubby say "I do" did my heart beat with so much love than what I felt for my daughter this afternoon. Can one heart be big enough for these two blessings that make my life so utterly complete?

Janke, my darling girl, I am so very grateful that the Master picked His most precious flower and gave her to me to share my life with. May you always stay the happy little girl that you are. May your laugh always come as easy and carefree as it did today and may your life be as blessed as ours when we received you!


Sunday, 4 November 2012

Mamma se liefling!







Mamma wees....

Ek skryf al (aan en af) aan hierdie inskrywing vir twee weke....

Ons eerste twee weke is verby en ek kan nie glo die dae vloei so vinnig ineen nie. Die eerste twee dae was ek so onseker en senuweeagtig en nou is ek gemaklik met haar en ken ek al die toonhoogtes in haar gille (nie dat daar baie is nie). Sussa is so `n maklike dingetjie en die geite en grille is min. Elke dag is trial en error en die beste deel is dat ons altyd `n volgende dag het om dit beter te doen en daardie ritme te kry waarvan elke gesin sy eie komposisie het.

Ons eerste keer in die Mall was baie snaaks en ook die eerste keer wat ons die stootwaentjie kon uittoets. Ek kom toe agter Kobus loop so snaaks en ek vra hom toe daarna (hy stoot die waentjie). Hy weet van niks maar toe slaan dit my - dit is breëborsloop!!! Hy is so trots op sy meisiekind dat hy beswaarlik dit kan wegsteek. Hy is verby chuffed om `n pappa te kan wees en met sy girls in die Mall te spog! Dit laat my hart so warm klop!!!

Op `n stadium moet hy gou haar doek gaan omruil (terwyl ek klaar eet) en wals met haar by die babastasie van die Mall in. Toe hy na `n eeu daar uitkom, toe sê hy: "Daar is net mans met babas daar binne, is dit nie `n vroumens plek nie? Anyway, my baba was die mooiste van die lot daar binne!" Kan jy nou indink? `n Klomp nuwe pappas wat uiters kompeterend hulle spruite droogmaak terwyl hulle onderlangs loer en notas maak oor die ander pappas en die se babas!

Sussa laaik van slaap! Ek het geen probleem om haar aan die slaap te kry of oor waar ek haar aan die slaap maak nie. Wakker word is `n hele gedoente en neem ten miste `n halfuur na 45 minute want sy raak moeg tussen-in en dan slaap sy nog `n bietjie. Ek vermoed ek gaan vreeslik sukkel met haar om op te staan vir skool. Die beste deel van my dag is om vir haar te kyk as sy wakker word en sy stoei teen die neuwels. Groot is egter die beloning as sy haar ogies oopkry en sy kyk met sulke groot oë na my en dan breek daar die grootste sonskyn glimlag deur sodat jy net gums sien. Dit is op daardie presiese oomblik wat my hart te groot raak vir al die liefde wat ek vir hierdie ongelookflike kind van my het. Ek kan dit nie beskryf nie want dit is te groot, te mooi en heeltemal te spesiaal om woorde daaraan toe te dig wat nie hierdie hartsgevoel tot sy reg sal laat kom nie.

Sy gesels graag en vertel vir my alles wat in droomland gebeur het. Sy vertel in detail al die skandale van die nag en mamma is gehipnotiseer met die vonkel in die ogies as sy haar so inleef in die storietjie in. Mamma moes die woorde van `n paar wiegeliedjies gaan opsoek (dankie tog vir Google) sodat ons bietjie kan sing. Sussie hou die meeste van Miena Moo en Eendjies Eendjies....

Dan is daar hierdie onverwagte oomblike! Oomblikke wat so vinnig gebeur en wat ek die voorreg het om in te deel. Soos die oomblik toe sy die eerste keer regtig haar voet raaksien en met verwondering daarna staar. Sy was in vervoering. Of toe sy die eerste keer vir apie raakslaan op haar jungle gym en so groot skrik vir die ervaring dat sy doodstil lê en gister toe sy die pappegaai raakgeskop het en jy die verbasing in haar ogies kon sien.

Kobus het gister so `n oomblik gehad toe sy vir die eerste keer hardop gelag het en so groot geskrik het daarvoor. Dalk het sy groter geskrik toe Kobus soos `n banshee gil vir my om te kom luister.

Ons het ook die 10 weke spuite deurgewerk maar Sussie was so dapper en het vir die eerste keer trane in haar ogies gehad toe sy gehuil het oor haar beentjie so brand. My hart het tienduisend stukke gebreek vir haar.

Om Janke se mamma te wees is die grootste en mooiste avontuur van my lewe en dit het die meeste belonings. Al my drome het waar geword. Erens in een van my nagte van insomnia het ek besef dat ek alles het waarvoor ek so hard gebid het. Die Here het my drome een vir een op Sy eie tyd bewaarheid en dit presies afgelewer soos ek daarvoor gevra het. Dankie Vader!

Tuesday, 23 October 2012

Dag 1 - Sussie is `n charmer!

Wat kan ek sê? My kind is die mooiste, cuteste, oulikste wesentjie op die hele aarde en sy charm almal se sokkies af! Sy gooi daardie gum smiles wat skrik vir niks! My hart vermuwe elke keer en ek is bevrees madam het haar pa so woes om haar pinkie, hy sal moet wal gooi.

Sussie het omtrent 20 minute geslaap oppad huis toe en toe die HELE middag spandeer om haar nuwe ouers te charm. Mamma in haar onbeholpenheid het vir haar soveel winde gegee dat ons eers teen half 8 al die nare  goed uitgeburp gehad het. En daar slaap sy toe dwarsdeur haar 12 uur voeding en as ek haar nie wakker gemaak het nie het sy deur haar 4 uur voeding ook geslaap.

Mamma het natuurlik NIKS geslaap nie en sit nou en blog a.g.v `n nag van slaaploosheid, `n stout kat en `n hoofpyn. Maar aai, toe sussie daai pixie ogies van haar oopmaak en sy gooi haar ma een van daai wenner smiles half 4 in die oggend, dan is alles vergewe en vergeet.

Na dag 1 kan ek met vertoue sê ek weet hoe lyk `n wind wat vassit, hoe lyk sy as sy klaar gewind is en hoe lyk sussie se doek na `n wenner stinkie! Sy sal oupa Cobus, oom Hannes en oom Manie ongelooflik trots maak op haar!

Oja, sy is ook deur 2 outfits (behalwe die designer nommer), twee kombersies en `n spoegdoek. Ek het gedink die ander mammas speel toe hulle vertel hoe baie wasgoed hierdie bondeltjies genereer.

Die son het nounet oor dag 2 opgekom en ek kan nie wag om in my kind se ogies te kyk nie!

Dag 1 - Soveel vreugde!

Waar begin mens om soveel emosie in een dag te beskryf?
Die rondrol en slapeloosheid van die onbekende, ek meen te sê, ek was nog NOOIT in die hof nie! Dit is net die Liewe Here se genade want ek was `n paar keer naby:) Dan is daar die ontmoeting met die biologiese mamma en ouma. Die onsekerheid of Sussie sal aanpas en of sy gelukkig gaan wees, of ek sal weet wat sy bedoel as sy huil of sal weet wat sy nodig het. Die ongelooflike dankbaarheid dat die hele hartseer proses agter die rug is. Die trane, frustrasie en sommige dae se hopeloosheid en dan daardie ongelooflike gevoel van paniek as jy in haar ogies kyk wat jou so volkome vertrou en jy weet nie of jy altyd daai vertroue werd gaan wees nie.

Dan is daar die engele wat die dag so besonders maak. Engel Rienie wat die huismoeder is waar die biologiese mamma gebly het en wat haar hand vasgehou het toe sy geboorte geskenk het. Engel Toekie wat my kind so mooi versorg het en so ongelooflik lief is vir haar. Sy het alles vir my gehou, mooi met briefies aan want sy het geweet ek luister nie toe hulle alles verduideik het nie. Daar is nie `n sekonde in my kind se lewe wat nie in een of ander manier vasgevang is nie.

Daarmee saam kom die ongelooflike berusting dat ek eendag vir haar alles kan gee en wys. Sy hoef nooit op `n soektog te gaan nie want alles is daar vir haar, die fotos, die briewe, die bewyse, elke dingetjie wat deur `n span engele vir haar bewaar is.

Daar is die engele wat so vrygewig bydra terwyl ons kindjie in die tehuis was. Sy het `n boutique outfit aangehad met `n designer EN `n handgehekelde kombersie. Sy het  tot `n teddie uit Duitsland! Maar die mees spesiale pakkie wat ek gekry het is die uitrustings wat ouma S en G gegee het. Met soveel trots en soveel liefde vir die kindjie wat hulle met sulke ruim harte vir ons gee.

Ons maatskaplike engele Sonette en Eloise, dankie vir die mooi woorde en die ondersteuning. Dankie dat julle altyd die beste vir ons op die hart gehad het al het ek julle so baie keer misverstaan. Dankie vir ons mooie meisiekind en julle reuse aandeel in die proses.

Ek dank die hemelse Vader vir die baie lewens wat hy moes stuur om ons almal gister in een sitkamertjie te kry. Jy kan nie die mag van die Vader en sy wil mis kyk in ons aannemingsreis nie.

Monday, 22 October 2012

Vandag word ons ouers!

Vandag word ek en Kobus `n pappa en `n mamma en die senuwees is gedaan. Kobus het gisteraand sy pad deur die kruidenierskas oop geëet. Ek het `n slaappilletjie gedrink wat nie gewerk het nie. Vanoggend vroeg al het die fone begin lui, beep en vibreer met opgewonde oumas en oupas, ooms, tannies en vriende. 

Ek gaan nou gou my hare laat uitblaas by die salon en my nuwe hempie hang teen die kas. Daar gaan heeltemal te veel fotos geneem word vir my ons soos `n trênsie te lyk. Kobus gaan gou die kar laat was want sy dogter moet nie in `n vuil kar rondry nie!!!

Die doekesak staan gepak en ek vroetel elke 5 minute daarmee om seker te maak ons het alles. Die kamera en videokamera is volgelaai sodat ons alles byderhand het om die groot oomblik vas te vang. Sussie se waentjie is in die kar, reg vir gebruik en ek het tot laat gelê en baba handleidings lees om seker te maak ons hou vir sussie aan die lewe.

Ek hou egter in gedagte dat vandag die tweede heuglikste dag in my lewe is maar ook die swaarste dag in die lewe van ons biologiese moeder. Ek het respek vir haar hartseer en ek sal haar altyd in my hart saamdra.
Baie dankie vir ons ongelooflike geskenk!

Thursday, 18 October 2012

Ons is so reg!

Sussie, ons is reg vir jou my skat! Jy het wiele, `n bedjie, kossies en die mooiste klere. Jou kamer lyk pragtig  en al jou goedjies is uitgepak en reg om gebruik te word. Nou moet jy net opdaag my liefiekind! Jou fotokie is op my en pappa se telefone en jy glimlag tog te mooi van my desktop af!

Ons beplan `n baie lui naweek sodat ons goed uitgerus kan wees vir die min slaap volgende week wanneer jy by jou "hotel" aankom. Ons is so opgewonde oor jou koms!

Dankie vir die mooi verslag wat ons van jou velige hawe ontvang het. Almal is so lief vir jou en trots op jou vriendelike glimlaggie en rustige geaardheid. Ons is reg om jou tonne liefde te gee met baie drukkies en cuddles. Nog net `n paar slapies dan is ons `n gesinnetjie.

Tuesday, 16 October 2012

Jou gesiggie

Vandag het ek jou fotokie gesien.
Die mooiste engelkindjie wat spesiaal vir ons harte gemaak en afgelewer is.
Woorde kan nie beskryf hoe ek gevoel het toe ek in jou ogies gekyk het nie maar ek het dadelik geweet dat ek vir jou onbeskryflik lief gaan wees en altyd daardie glimlaggie op jou gesiggie wil sien.

My hart is so vol.....

Vol van liefde en verlange, mamma-bang-wees, onsekerheid en oneindige trots vir hierdie liefiekind wat eersdaags net aan ons gaan behoort.

My hart is vol van dankbaarheid vir die biologiese mamma. My hart gaan uit na haar in hierdie omstandighede. Ons sal jou altyd dankbaar bly vir hierdie groot geskenk. Mag jou toekomsdrome altyd waar word en ek gun Janke altyd haar plekkie in jou hart.

My hart is vol van dankbaarheid vir die personeel, vrywilligers en huismoeder van die tehuis waar Janke tans bly. Dankie vir die liefde wat julle my kind gegee het toe ek nie kon nie. Dankie vir die geduld en toewyding waarmee julle haar versorg het en dankie vir die briefie wat julle in haar verslag gesit het wat trane in my oë gebring het. Ek sal dit vir haar bêre sodat sy altyd weet hoe geliefd sy is.

Ek is dankbaar vir my man en die pappa van ons engel. Hy is ongelooflik en ek kan nie wag om hulle bymekaar te sien nie. Dankie Bokkie, vir die finansies en die ondersteuning en dat jy ons huisgesin se rots is. Ons kyk op na jou en ons is baie baie lief vir jou!

Ek is dankbaar vir al ons vriende en familie wat sulke ongelooflike mooi boodskappe gestuur het en net so verlief op ons baba is soos ons. Baie dankie vir al julle ondersteuning en liefde in hierdie tyd. Julle het ons laste halfeer en ons vreugde verdubbel.

Maar die grootste deel van my dankbaarheid gaan aan ons hemelse Vader. Ons is dankbaar vir hierdie pad wat U vir ons uitgelê het en wat ons soms met huiwering gestap het maar die uiteinde is `n pragtige dogter wat ons nie kan wag om te ontmoet nie. Dankie Vader!